Soos ons ry is daar baie alledaagse insidente wat ons bybly. Hier onder is n paar. Ons voeg by soos wat ons aangaan en tyd kry. Die nuutste storie is bo.

BLY OM TE RY

“Hardloop! Run! Seekoei!” Weergalm die nooduitroep van die wildbewaarder. Die hele groep met swaar rugsakke en al, draai soos een man weg van die aankomende seekoei en begin blindelings tussen die bosse teen die heuwel op te hardloop. Jy hoor net takke wat breek en drie sekondes later n dawerende skoot wat afgevuur word. Ek voel soos Lot se vrou toe ek in die hardloop terugkyk, net om die gewonde seekoei te sien val en tol n paar meter van ons af. Met n skok besef ek dat hierdie nie n skynaanval is nie, maar die ware Jakob en onthou ook dat seekoeie naas muskiete vir die meeste sterftes in Afrika verantwoordelik is. Net toe ek oorgaan in “turbo boost” hoor ek takke WOES breek reg agter my en besef my laaste minuut het aangebreek. Die volgende oomblik storm ons seun Tiaan verwoed met oë soos pierings by my verby. Hy laat hom nie afskrik deur die takke wat hom terughou nie, maar breek hulle in sy vaart om weg te kom. Later sal ons hoor dat hy glad nie ag geslaan het op die bevel om te hardloop nie, maar nog n ander seekoei verder aan bestudeer het deur sy verkyker en toe hy dit laat sak, sien hy die stormende seekoei meters van hom af.  Ek weet nie watter  gesig was die ergste nie; die stormende seekoei of Tiaan se verwilderde gesig!

Maar kom ons begin voor. Na n rusperiode van twintig jaar se kinders grootmaak en probeer om n paar Rand in die bank te kry, haal ek en my man Vivian weer ons staptoerusting uit. Ons is bespreek vir n ordentlike staptog van vyf dae in die Krugerwildtuin. Nie van die tripper soort waar jou rugsak aangery word en jou kos voorsien word nie. Nee, jy moet self alles inpak en self alles dra op jou rug – soos destyds met ons Exploratio toere op Tukkies veertig jaar gelede!

Nodeloos om te se ons “kit” is hopeloos verouderd! Die dons slaapsakke het net hier en daar nog n kolletjie dons, nou meer aartappelsak as slaapsak, die rugsakke is nog met rame aan die buitekant en die matrassies is papierdun en kliphard. Maar ons is baie opgewonde, google nuwe stapresepte en pak ons rugsakke tot vervelens toe oor om dit ligter te kry.

Uiteindelik is ons opad saam met Tiaan om vroegoggend aan te meld by Olifantskamp.       Behalwe vir die twee jong wildbewaarders met hulle gewere, is daar ook twee broers van Johannesburg wat die staptog gaan meemaak. Ons word aangery met n wildsvoertuig na die punt waarvandaan ons begin stap, dit duur n goeie drie ure en aangesien dit winter is, klim ons bevrore en goed honger met stywe bene af.

Na n lesing van moets en moenies, swaai ons ons sakke op ons ruê en die tog begin. Al twee wildbewaarders voor en die res van ons in doodse stilte agter hulle aan, jy MOET ingelid agter mekaar loop en slegs met jou vingers klap as jy iets wil wys of dalk baie saggies sê. Geen gesels word geduld nie. Dis vreesaanjaend as jy die agterhoede dek en jy maak jou rug maar hol en wonder hoe vinnig jy by almal verby kan hardloop as daar dalk n leeuaanval van agter is.

 Vyftien minute later klap die voorste wildbewaarder, Chris sy vingers en wys na n trop olifante aan die oorkant van die rivier. Daar is seker twintig olifante wat bewegingloos staan onder groot bome en ons stip aankyk. Daar is heelwat kleintjies tussen hulle, die riviertjie tussen ons maar trietsig en my hart begin woes klop. Gelukkig begin hulle wegbeweeg na n paar minute en kan ons weer asemhaal.

Skaars n halfuur verder wys Chris weer vir ons twee seekoeie wat seker n 100meter van ons in n baie klein poeletjie lê. Almal behalwe ek, lig hulle verkykers om mooi te kyk. Ons het net twee verkykers tussen ons drie en ek wag geduldig my beurt af. Die volgende oomblik sien ek n beweging uit die hoek van my oog, n groot grys massa staan skielik op uit dit wat eers net soos modder gelyk het, slegs twintig tree van ons af. Ek gee angstig een tree tot by Chris, gryp hom aan sy arm en wys na die seekoei. Die volgende oomblik maak die seekoei eers sy bek groot oop, en daana toe en toe kom hy! “Seekoei! Hardloop!” skreeu Chris terwyl hy blitsvinnig oorhaal en aanlê om te skiet.

Toe die derde skoot klap kom die hele groep effens tot stilstand en kyk terug. Daar lê die seekoei skaars 20 meter van waar ons gestaan het, met sy kop teen n klip waar hy geval het en die bloed loop vrylik. n Pragtige reus van die wildernis wat met sy lewe moes boet net omdat hy bedreigd gevoel het en aangeval het in plaas daarvan om te vlug. Die droogte en die min water in die poeletjie kon nie vir hom skuiling bied nie.

Twee dae later hardloop drie leeus voor ons oor die rivierbed, maar gelukkig hou hulle stroomaf en weg van ons af, maar die hele groep is op hulle senuwees.  Die twee wildbewaarders was dit eens dat hulle nog nooit n groep gehad het wat soos een man in gelid deur n bos beweeg het nie. As die een voor jou sy voet oplig dan sit jy jou voet in sy plek neer, tog te bang dat daar ‘n gaping in die ry ontstaan. Almal is bang hulle bly agter of word boskos.  

Die res van ons staptog het sonder enige voorvalle verloop, maar ons sintuie was vlymskerp ingestel op elke geluid of reuk. Elke nag gaan lê jy in jou dun slaapsak en luister na al die naggeluide terwyl jy alle gevoel in jou heupe verloor waar jy op die koue rivierbed le. En dan dink jy aan die seekoeipaadjie wat net hier langs jou tentjie verby gaan,en jy spits jou ore om hulle te hoor, maar al wat jy hoor is n hiëna se lag daar ver en die skopsuiltjie in die boom bokant jou wat sy maat roep. Of die geluid van die stofie wat water kook vir die eerste koffie lank voor die son nog op is en die wereld nog donker is om jou en die koue so uit die rivierbed opslaan.

En wanneer jy dan weer aan die einde van die staptog in die wildsvoertuig klim, moeg maar verryk deur alles wat jy in Sy koninkryk beleef het, is jy tog bly om weer te kan ry!

Sal ons dit weer doen? Verseker!

 

Paddas wat vlieg

Dit is n lang dag se ry deur ruig woude met reuse bome en oor klein riviertjies met pragtige strande langs “Park Nacional Amboro” in die Suidweste van Bolivië. Wanneer jy op n hoogte kom, is dit net digte groen bos tot op die horison, dit slaan jou asem weg. Maar ons is lekker flou toe ons uiteindelik vyf uur insleep by die klein dorpie Buena Vista en ons soek kampplek so vinnig as moontlik.

Ons volg die gewone roetine om op I-overland te kyk of daar enige kampplek naby is wat iemand aanbeveel het. (I-overland is n wonderlike website waar overlanders kommentaar lewer op plekke waar hulle gekamp het, en wat van onskatbare waarde vir ons in ons toere in Suid Amerika is.)

Kampplek is daar nie, tog word twee hotelle genoem waar jy ook buite mag kamp. Ons ry na die eerste, maar die kampplek is op n baie klein geplaveide binnehof reg langs n piepklein huisie….skoon, maar met geen privaatheid en plek vir net een kar.

Die tweede hotel genoem, Hotel Surutú, lyk vreeslik imposant van buite met hoë mure, die naam pragtig op die muur geskryf en ʼn indrukwekkende ingang. Ons is vol verwagting toe ons inry, maar dit is alles behalwe ʼn hotel, ʼn lang smal struktuur wat lyk of drie vertrekke aanmekaar geplak is, vorm die huis aan die regterkant van die lang erf. Aan die linkerkant is ʼn swembad heeltemal met mosaïk uitgevoer met ʼn onderdak ontspanningsarea. Dit lyk nie té sleg van ver af nie en toe die eienares kom vra, besluit ons om daar te kamp en betaal sommer…dit begin ook al donker word en ons fut is uit vir die dag.

“Big mistake!”

By nadere inspeksie sien ons die swembad is baie vuil en daar woon iemand in die oop ontspanningsgedeelte wat reg op ons kampplek kyk, sy bed met klere neem die hele plek in beslag. Daar is ten minste agt katte wat oral op alles spring en geen ontsag het vir jou kos of jou eetgerei nie, ook vier honde wat al om ons voete draai en wag vir ʼn onbewaakte oomblik om kos van ons blad af te steel.

Die ergste kom nog toe ek uiteindelik die vuil badkamer aan die punt van die ry kamers opspoor.

Dit is nou al heeltemal skemer en ek kry nêrens ʼn skakelaar vir n lig nie, ook geen vensters nie, noodgedwonge moet ek maar die deur op ʼn skrefie oophou om enigsins iets te sien binne. Die stort is bokant die toilet soos wat dit hier in Suid Amerika baie keer die geval is, dit is baie vuil binne en ek probeer aan niks raak nie. Maar die mees vreesaanjaende ding is die klomp swart vlieënde of springende diertjies, so agt sentimeter in lengte, wat teen die mure beweeg.  Ek het eers gedink dit is paddas, maar tog gewonder, want hulle beweeg so ver en vinnig teen die muur, dit lyk of hulle vlieg….reuse kakkerlakke of dalk vlermuise? Ek besluit net daar en dan, daar is nie ʼn manier wat ek gaan stort nie, dink net as een van hulle op jou nat lyf beland?! ʼn Nagmerrie wat waar word! Vivian rapporteer dat die water yskoud is en dit bevestig net my besluit.

Die opsigter is ʼn gehawende ou oom wat sy stoel reg langs ons kampplek posisioneer en homself daar tuis maak. Hy volg elke beweging wat ons maak met belangstelling – geen kans vir privaatheid hier nie. Ons maak roereier met roosterbrood vir aandete, dit is ons vinnigste ete om voor te berei, en verdwyn so vining as moontlik in ons Landie. Maar die nag lê voor – die slegste nag van die hele toer.

Eers raas die TV in die eerste kamer tot twaalf uur sodat ons nie n oog kan toemaak nie, daar word defnitief n fliek gekyk op die hoogste volume. Die “hotel” is aan die onderkant van n bult en elke motorfietsie wat ry, en glo my daar is baie, moet revolusies optel reg langs ons kampplek om die bult tot bo te maak, die geraas is oorverdowend. In die vroëe ure van die oggend begin die geluide uiteindelik minder word en ons ontspan en dut in.

 Maar moenie glo nie, dit is nou die vier honde van die “hotel” se beurt om hulle ding te doen. Hulle staan voor die geslote hek en werk mekaar op in n histeriese geblaf wat aanhou en aanhou. Ek glo nie die eienaars kan hulle so duidelik hoor nie, maar dit is reg langs ons kar en ons rol om en om in ons daktent – dit is onmoontlik om te slaap.

Uiteindelik kom hulle tot rus en ons strek ons uit om verlore slaap in te haal. Ek wonder of ons n halfuur geslaap het toe die eerste hoenderhaan op die muurtjie langs die kar, net mooi oorhoogte, uit volle bors n nuwe dag aankondig. Dit is nog pikdonker buite maar sy ander hanebroers laat nie op hulle wag nie, en gou klink dit soos n hanekoor. Eers roep die paar op die muurtjie by ons, en dan antwoord ander hane doer ver aan die anderkant van die dorp.

Ons kan mekaar nie eers hoor praat nie so hard is die lawaai. Ons lê moedeloos en wag vir die hane om hul hanesang klaar te kry. Wat het van hane geword wat ten minste wag totdat n teken van die sonsopkoms sigbaar is, voordat hulle kraai? Hoekom kraai hane lank voor die voëls begin sing wonder ons hardop.

So begin die nuwe dag uiteindelik met die sirkel wat voltooi word….. die motorfietsies begin weer hulle tog teen die bult uit met n vreeslike geraas, seker inwoners wat vroeg by die werk moet wees.

Toe die oom die hek van die “hotel” langs ons kar oopsluit gee ons moed op, staan op, slaan die daktent plat en sonder om te groet ry ons sommer so in ons nagklere by die hek uit om êrens buite die dorp in die veld ons eerste koffie vir die dag te gaan maak.

 

Nagmerrie rit uit die Amasone

 Vyf uur, saam met die eerste voëls wat begin gesels, is ons op en pak ons laaste goed om 6 uur te vertrek uit die kamp by Manu Rain Forest in Peru. Ons het geweet dit gaan ʼn lang dag wees maar nie in ons wildste drome gedink ons gaan eers 21 uur later in Cusco uitkom nie, dit is per slot van sake net 220 kilometer ver, maar weliswaar meer as 3000 meter veskil in hoogte!

Aanvanklik loop alles vlot, ons stap vir 45 minute deur die piesangplantasies tot by die boot wat vir ons wag by die Rio Madre de Dios. Die rit na die oorkant in die boot is maar vyftien minute lank en ons klim daar uit ons waterstewels en los dit in die boot, eiendom van Manu Lodge. Die stewels was ʼn redding die laaste drie dae in die modder woude van die Amasone.

Die paadjie op na die busstop draf ons sommer gou-gou in n halfuur kaf en daar staan ons reg vir die bus wat al die inwoners hier gebruik en wat min of meer in die volgende uur moet opdaag. Dit kan selfs langer ook neem, dit is nie verniet die Amasone nie, hier is jy absoluut van geen tyd seker nie.

ʼn Toyota bakkie kom met n stofwolk aangery en stop met skreeuende bande, die paar mense wat saam met ons wag vir die bus hardloop en spring haastig op. Ons gids skreeu opgewonde “let’s jump and catch this lift, the bus may take another two hours!” Ons gryp ons bagasie en spring agter op die dubblekajuitbakkie….geen vergunnings vir ʼn ou wit tannie nie. My een been hang nog af toe trek hy al weg met klippe wat spat. Daar is bitter min spasie en ons is seker tien mense agter op en daar is geen vashou plek nie. Dit word ʼn nagmerrierit deur die Amasone.

Die bestuurder jaag teen ʼn spoed asof hy heel voor is in die Dakar resies. Ek het nogal gedink dit gaan nou wonderlik wees, want ons gaan die ongelooflike mooi woude met reuse groot bome om ons eerstehands beleef buite op die bakkie, maar moenie glo nie….ons bid vir ons lewens. Ons pyl elke keer teen ʼn reuse spoed af op ʼn draai en dan knyp ek my oë toe, want ek sien net afgronde om my en klou vervaard aan die omie langs my se middelvetjies om my balans te hou. Vir ʼn uur hou dit aan, my voete staan bo op iemand anders s’n en ek kan hulle nie versit nie. As die bakkie rem, lê ons almal bo op mekaar amper oor die dak. Uiteindelik stop die bestuurder in ʼn piepklein dorpie, Sanción, en ek strompel letterlik van die bakkie af. Ons is drie ure te vroeg vir die publieke vervoer, of soos hulle dit hier noem, ʼn “minivan” na Cusco.

Drie ure later is ons die eerste mense wat inklim en word die beste sitplekke aangewys, tweede bank van voor. By die volgende stop is die die bussie al amper vol. Nog net voor langs die bestuurder is ʼn oop plek en ook reg voor ons. ʼn Vrou so in haar vyftigs met n klein dogtertjie en n doofstom dogter van so agttien neem hierdie sitplekke. Die ma en doofstom dogter, Maria, skree vir mekaar met woedende gesigsuitdrukkings, maar sonder ʼn geluid, hulle bly die hele rit in ʼn “woorde” skermutseling met mekaar maar met aggressiewe handgebare, blitsende oë en doodse stilte. Dit is die mees onaardigste ding om te beleef. Ek het baie simpatie met Maria, want in die ure wat volg kan ek sien hoe die normale dogtertjie woes voorgetrek word, die lewe kan darem so onregverdig wees.

“Toet-Toeeeeeet” klink die minibus toe ons die volgende klein dorpie inry. Ons stop langs die pad aan die einde van die dorpie voor n armoedige klein huisie, niemand in sig behalwe n klein dogtertjie van so net oor ʼn jaar wat buite ronddwaal en aan n ysie suig. Langs die pad staan daar ʼn hoop planke met n tou vasgemaak, ʼn groot plastiekemmer vol iets wat soos tamaties lyk, nóg ʼn emmer met vloeistof wat soos koeldrank lyk met n deksel op, nog twee bokse en ʼn groot rol doringdraad. Die bestuurder toet weer en ʼn jongerige vrou kom by die deur uit, sy is so rustig as wat kan kom en luister nog eers wat die dogtertjie wil hê. Dan dra sy rustig die stapel goed aan vir die bestuurder om bo op die bussie vas te maak.

Die hele bussie is vol mense en almal staar haar aan, maar sy laat haar glad nie aanjaag nie, verpoos nog by haar kind tussen die draery van haar bagasie. Net toe ek dink alles is nou seker vasgemaak, verdwyn sy weer in die huis en kom met twee houtstoele uit wat ook bo op die dak moet gaan. Ek kan my oë nie glo nie. Daarna tel sy nog twee groot sakke en uiteindelik haar dogtertjie ook op om saam te ry. Daar kom ʼn jong seun uit die huisie en sy gee aan hom nog eers n paar instruksies voordat sy en haar kind die laaste sitplek voor langs die bestuurder neem.

Ek verwag n baie befoeterde bestuurder na alles wat hy bo op die dak moes vasmaak, maar terwyl ons ry praat die twee land en sand. Nee, ek moet eerder sê sy babbel kliphard onophoudelik en hy reageer heel vriendelik elke nou en dan, ten spyte van die kleintjie wat aan alles voor wil vat en met haar taai handjies in sy hare krap.

Ons stop in nog n kleiner dorpie en die hele bus klim uit. Ek en Vivian verstaan glad nie wat aangaan nie, selfs die busbestuurder is uit, ons sien hom aansit by n tafel in die restaurant langs die geparkeerde bussie. Nog vyf ander mans wat ons medepassasiers is, sit saam met hom aan. Ons kan nie glo dat hulle so vinnig gehelp word met ʼn groot bord kos nie. Klaarblyklik is hierdie restaurant voorbereid op so n klomp mense, almal eet die vasgestelde spyskaart, so die borde kos word opgeskep soos wat die kliënte by die deur instap. Ons drink n koeldrank en dertig minute later klim almal weer terug in die bussie en ons vertrek weer.

Ons ry deur die “Cloud Forest” ʼn hoë pas teen ʼn spoed uit en dit op n vreeslike nat kronkelende paadjie wat klou aan die berg, orals is hoë afgronde reg langs die pad. Die natuurskoon is asemrowend mooi, maar ek is letterlik  sonder asem as ek in die diep klowe afkyk en dink aan die dun uitgeslyte bande van die bussie en hoe woes die bestuurder ry.  Oefen hy dan ook vir die Dakar wonder ek……hoeveel bussies of karre het al hier afgeval?

Dit is al 4 uur die middag en dit raak besig in die bussie met al die kinders en mense wat nou moeg begin raak van die lang rit. Skielik kom die bussie tot stilstand…..ons verwag n tydelike oponthoud, maar na tien minute en weereens die busbestuurder wat uitklim en buite met ander bestuurders staan en gesels, besef ons dit gaan ʼn lang stop wees. Min wetende die hele pad voor het toegeval na n rotsverskuiwing en dit moet letterlik oopgegrawe word met groot laaigrawe om n nuwe pad te vorm. So wag ons ʼn volle twee ure en kyk hoe tonne en tonne grond geskep en afgegooi word by die afgrond om die pad weer oop te maak. Die passasiers in ons bussie sit óf buite in die koue om die storie gade te slaan óf hulle slaap binne, party eet. Dit is ʼn lang uitmergelende koue wag, met die moontlikheid om n hele nag daar langs die pad te spandeer. Die ander passasiers vat dit soos dit kom, “landslides” is dood normaal in hierdie wêreld waar paaie aan die berghange op genade vas klou. Die hange is so steil dat die pad nêrens reguit is nie, die pad is letterlik van draaie aanmekaar gevleg en as dit reen is “landslides” vanselfsprekend.

Dit is al amper heeltemal donker voordat die versperrings verwyder word en almal weer terugklim in die bussie om te vertrek. Ons hou ons asems op toe ons oor die herstelde pad ry, die grondhange langs ons lyk nog steeds of dit enige minuut weer gaan intuimel bo op ons. Maar ons is veilig deur op die nou paadjie met ʼn afgrond wat gaap aan ons een kant.

Daar lê nog vyf ure se ry voor, voordat ons Cusco bereik net voor middernag. Almal strompel uit die bussie, party met slapende kinders oor hulle skouers. Gelukkig is daar selfs in hierdie uur baie huurmotors en ons is gou geholpe en oppad na ons kampplek.

Die laaste terugslag is toe die huurmotor wraggies n papwiel kry op die snelweg. Ons klim maar noodgedwonge weer uit, haal al die bagasie uit die bak en Vivian help om die wiel te vervang.

Twee uur daardie nag val ons doodmoeg in ons bed in die Landy se daktent, nadat ons die kampeienaar moes opklop om die hek oop te sluit, en nog n paar minute om ook ʼn stort in te pas. Hierdie dag was 21 uur lank en ons gaan dit verseker nog vir baie jare onthou!

 

Oor taalgrense lief vir die Here

Ons word wakker vroegoggend van die mooiste voëlgeluide denkbaar waar ons “wild camping” doen langs n meer met baie voëls, die meeste is watervoëls. Ek lê en dink dit is sekerlik die heel wonderlikste geluid om van wakker te word. “Wild camping” beteken om van die pad af te trek waar dit geskik lyk, en daar kamp te maak vir die nag, verkieslik sonder om van die pad sigbaar te wees. Natuurlik is daar dan geen geriewe nie. Om n “wild camp” te kry wat geskik is en boonop mooi is, gebeur nie aldag nie, dus wanneer mens langs n rivier of n meer n staanplek kan kry vir die nag is dit n groot bonus.

Ons drink ons eerste koppie koffie met van die laaste growwe beskuit wat ek nog in Suid Afrika gebak het en kyk hoe die son opkom oor die water. Twee Toucans vlieg oor ons koppe en kom sit in die boom langs ons, hulle reuse heldergeel bekke blink in die eerste strale van die son. My hart loop oor van dankbaarheid teenoor ons Skepper vir soveel genade om dit alles te kan beleef.

Na ontbyt maak ek reg vir die dag se ry wat voorlê en sien skielik die vroutjie in die pad langs ons kar – ons het haar die vorige dag vlugtig ontmoet toe sy agter op haar man se motorfiets by ons gestop het. Hulle woon in n huisie n entjie weg.

Sy groet in Spaans “Buenos dias“ en ek maak so terug. Ons probeer n gesprek aan die gang kry, maar dit gaan maar sukkel, ek ken maar min Spaanse woorde. Sy vra iets in Spaans en toe sy die vraag weer herhaal, roep ek vir Vivian waar hy besig is om die dak van ons kar af te slaan, om te kom help. “Sy wil weet hoe oud jy is” sê Vivian. Dit kan ek darem self antwoord  “sesenta e cinco“ (vyf en sestig)  antwoord ek in Spaans. Ek wys met my vinger na haar en n vraag in my oë – hierdie vingertaal het my al goed te staan gekom. Sy antwoord  “cincuenta dos “ (Twee en vyftig). Sjoe! Sy is baie jonger as wat ek gedink het, die lewe moes haar al hard behandel het.

Sy is klein vroutjie wat maklik onder my arm sal inpas met baie plooie, maar n vriendelike gesig.

Sy peper my met vrae en ek moet elke keer vir Vivian vra om te tolk en te antwoord. Waar kom ons vandaan? Is dit daar ook so warm soos hier in Bolivië? Hoe lank reis ons al? Waarheen is ons  oppad? Ek het intussen besluit om maar voort te gaan met my oggendroetine van gesig was, dagroom aansmeer, tande borsel, en word met n arendsoog dopgehou.

Uiteindelik besluit sy om tog maar voort te gaan op haar pad en staan nader met haar hand uitgestrek om te groet. Ek skud haar hand redelik ongeerg, maar sy hou dit styf vas. Sy wys met haar vinger na bo en se iets in Spaans wat ek nie verstaan nie. “Dios?” (God) vra ek. “Si! Si! Dios! En haar gesig breek oop in n helder glimlag. Uiteindelik is ons op dieselfde bladsy.

Sy se iets in Spaans wat vir my klink soos: Mag God julle reisgenoot wees op julle pad.

En skielik is ek  heeltemal in trane en hou haar sommer styf vas, die klein vroutjie. Sy verstaan glad nie my trane nie, maar vir my is dit soos om n familielid in hierdie vreemde land te vind. Ek is oorstelp en wil haar nie los nie. Sy kyk my later vol liefde aan, begrip in haar oë.

So kan n mens tog oor taalgrense vir mekaar se “Die Here is lief vir jou”

 

Die bloeddorstige insekte van Brasilië.

Ons maak n pitstop langs die pad  in die hartjie van Brasilië om iets te eet vir middagete. Ons soek reeds n uur lank n geskikte plek, maar dit is oral vreeslik stowwerig met groot vragmotors wat verby kom en nog meer stof opskop. Ten einde laaste draai ons af, sommer die veld in tussen lang gras en stop langs n ou kerkie, effens vervalle, maar nog in gebruik. Dit is moordend warm, maar ons wip niksvermoedend uit die kar, vol verwagting vir n lekker middagete en rus in die koelte.

Ek slaan ons kombuisie aan die kant van die kar af en haal die heerlike avokadopeer en broodjie uit toe die eerste aanval my tref. Daar is ʼn swart wolk onder by my enkels van insekte en die eerste bytplekke brand klaar soos vuur. Ek gryp vervaard na die insekweerder, “Off!”, die beste volgens  die Amasonegids, en buk vooroor om my enkels te begin insmeer. Onmiddelik kry ek nog twee byte op my rug en twee op my nek.

Die goed is absoluut bloeddorstig en moes dae laas enige kos gehad het. Hulle sin vir ruimteorientering is heeltemal daarmee heen en hulle vlieg net eenvoudig reg binne in jou vas, en daar waar hulle jou tref klou hulle en begin dadelik hulle angels regkry om bloed te suig. Ek is histeries, want moenie dink dit help enigsens om hulle te probeer wegwaai nie – hulle honger dryf hulle verby enige vrees vir n mens, hulle klou verbete.

Wat IS die “goed”?  Dit is almal vlieende insekte tussen 5 en 30mm lank – muggies, muskiete, perdebye van verskillende groottes en vlieë wat steek –  ja jy kan my maar glo – hierdie steekvlieë se byte is die seerste van almal.

Ek smeer myself met insekweerder so vinnig as ek kan, maar voel hoe tel ek ongevalle op by die minuut. Ek waarsku Vivian, maar hy het homself rustig ingesmeer en slaan vir ons die kampstoele op asof daar geen  bedreiging van enige aard is nie – hoekom teiken hulle altyd die arme skoner geslag met hulle kaalgeskeerde bene​?

Nes ek een plek smeer is daar n aanval op n ander plek. Ek kom uiteindelik by die broodjies uit maar reg bo op my kop, waar ek niks kan smeer nie, koek hulle nou saam. Die gesuis om my ore word al erger. Al wat ek nou nog kan probeer is die vloeistof-insekwerende spuitmiddel van Suid Afrika. Ek spuit my kop en hare so nat dat dit van my oorlelle afdrup – daar is n verposing in die aanval.

Uiteindelik het ek ons broodjies gesmeer en sit ek op die punt van my stoel en probeer eet terwyl ek verwoed rondwaai – ek jeuk oral en my enkels is rooi opgeswel van al die bytplekke. Ek het later twaalf aan die een enkel en agt by die ander een getel.

Vivian lees rustig vir my voor uit die Lonely Planet oor ons volgende dorp wat ons gaan besoek.

“Turn right as you enter the pretty little town of Bonito…”Eina! Bliksem!” en hy spring op uit sy stoel en vryf sy arm verwoed “hier sit sy angel nog in my arm!”

Wat kan ek sê….ek het jou mos gesê? ​

Hanlie by die kombuisie van ons Land Rover Defender besig om vroegoggend koffie te skink

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *